Published 12 August 2025 in Press
Die Burger - Kuns & Vermaak
Haidee Nel Featured in Veldhospitaal: ’n Hartklop van kuns en genesing op Woordfees
By Mariana Malan
Die Burger - Kuns & Vermaak
Published 21 July 2025
'Ek het letterlik 'n visie gehad'
Daar is 'n eerste vir alles. Daar is nog nie voorheen weg gebeur van titels soos modevervaardiger, mederegisseur, selfs baasbrein nie. Haidee Nel noem haarself eenvoudig die Emmer. En Saartjie Botha, direkteur van die Toyota Stellenbosch Woordfees, gaan die eer hê om as skelet deel van die fees te wees.
Nel, die aanstigter van die Veldhospitaal by vanjaar se Woorfees, is waarskynlik ook die eerste persoon wat 'n ligte hartaanval van vreugde gekry het by die begin van 'n idee.
"Ek het letterlik 'n visie gehad en 'n diep gevoel van wat hierdie projek is. Ek het gesien hoe die hart uitkom en vlerke groei. Die vlerke gaan op en soos hulle afkom, vat dit die stof van oor die hele aarde. Presies op hierdie punt kry ek toe 'n pyn in my hart en in my arm sodat ek hospitaal toe gejaag moes word. Ek dink dit was 'n hartaanval van joy, van dankbaarheid, next-level braafheid en 'n oomblik van verstaan dat ek moet skyn en ander inspireer om saam te skitter," beskryf sy die aanvang van die idee vir die Veldhospitaal.
Veldhospitaal is inderdaad iets so buitengewoon en groot dat dit mindere geeste na kalmeerpilletjies sa laat gryp.
Haidee Nel is die aanstigter van die Veldhospitaal op vanjaar se Woordfees. Foto: ARGIEF
Die Veldhospitaal gaan in agt geboue op die Libertas-plaas ingerig word met alles wat in 'n hospitaal gekry word plus 'n laboratorium, kafeteria, X-straal kamer, ruimtes vir stil word, 'n skropruimte (scrub room) waar die modehuis gaan wees en 'n labirint waarin rondgedwaal kan word.
Elke deel van die liggaam kry 'n plek binne die ruimtes. Meer as 50 kunstenaaars verteenwoordig organe en liggaamsdele. Die hart, baarmoeder, are, longe, lewer, oë, stembande, ore, galblaas, ruggraat, noem maar op.
Alles wat 'n liggaam uitmaak wat in die geheel en afsonderlik wys waaruit die mens bestaan.
Dis 'n lewende kunswerk waar besoekers kunstenaars en ander deelnemers as organe, liggaamsdele en abstraksies van menswees sien. Dit gaan om deel te word van alles wat uiteindelik rus vir die afgematte en oorweldige siel en liggaam sal bring.
Nel verduidelik dat hierdie tapisserie moet wys hoe die een deel van die liggaam nie sonder die ander kan bestaan nie.
"Ons as kunstenaars werk dikwels op sy eie eiland. Ons almal hardloop op 'n trapmeul. Ons word gedryf om in eie reg te skitter. Hier kry ons die kans om elkeen sy klein liggie te bring en ons trek dit saam tot die groot lig soos dié van 'n vuurtoring.
Al die gejaag maak kunstenaars en ander mense moeg, gefrustreerd, eensaam, depressief en min lus vir die lewe. Die hoofdoel van die Veldhospitaal is om mense weer saam te bring, oor hul diepste gevoelens te laat praat en te troos in 'n ontspanne omgewing waar kreatiwitieit hoogty vier.
Daar gaan ook gesprekke wees tussen mense uit verskillende beroepe, met verskillende agtergronde en van verskillende kulture.
Dis 'n reuse-eksperiment in die byeenbring van soveel verskille wat eintlik een groot geheel moet vorm, wat ons as mense eintlik moet doen as ons bymekaar kom," sê Nel.
Wanneer 'n mens na 'n hospitaal gaan, is jy klaar siek. Die Veldhospitaal gaan wel nie operasies uitvoer en pille uit 'n laboratorium of veldmedisyne aanbied vir genesing nie. Nel meen dit is 'n ervaring en dalk is net 'n drukkie, 'n geduldige oor en jouself verloor in 'n wêreld van mekaar verstaan, wat die inspuiting van nuwe energie en kreatiwiteit kan gee.
Haidee Nel is 'n beeldhouer van Swellendam wie se werke van kinders met hul oë toe en met kaal voete veral bekend is. Sy het aan die Universiteit van Kaapstad studeer waar sy onder meer op die dekaanlys vir akademiese prestasie was. Sy het plaaslik en oorsee uitgestal en was deel van 90 groepuitstallings en tien solo-uitstallings hoofsaaklik in Kaapstad, Johannesburg, en België. Sy het aan internasionale kunstefeeste soos Kunst Zürich, Brussels Art Fair, AKAA Art Fair Paris, Mad Art auction London, Les Couleurs Charity Auction New York, Cape Town Art Fair, Johannesburg Art Fair en Turbine Art Fair deelgeneem.
Veldhospitaal word van 14 tot 18 Oktober van 10:00 tot 22:00 en op 19 Oktober van 10:00 tot 18:00 op die Libertas-plaas buite Stellenbosch aangebied. Kaartjies kan vir die week (R1 000), per dag (R500) of per halfdag (R250) gekoop word. Besoek www.veldhospitaal.co.za vir meer inligting.
To view the original article please navigate to the Die Burger website here
For more information abou the Veldhospitaal Project and to purchase tickets to the event please navigate to the Veldhospitaal website here