Klyntji: ''n Kyk na hoe Bernard Brand sien' By Celeste Theron

Published 10 June 2024 in Interviews

Klyntji - Film & Foto

'n Kyk na hoe Bernard Brand sien

By Celeste Theron

Klyntji - Film & Foto

Published 10 May 2024


Foto: Celeste Theron

Celeste Theron gesels met dié eiesoortige fotograaf

Met ’n naam soos Bernard Brand moet jy seker iets met jou lewe doen. Bernard het besluit om sy lewe toe te wy aan fotografie. Vir 10 jaar groet ek die sku en stil man agter sy kamera in die verbygang by galerye. Ek wil verstaan wat verg dit om agter Bernard Brand se lens te wees. (“So I decided to take myself as mediator for all photography. Starting from a few personal impulses”, om Roland Barthes aan te haal.)

Indien jy, die leser, onbekend is met Bernard Brand; hy is kind of a big deal op ’n none flashy way – met ’n verbasingwekkende verskeidenheid van kunssinnige prestasies agter sy rug. Hy het al aan verskeie groepuitstallings deelgeneem, onder andere ABSA Barclays L’aterlier (2023, 2017) en Sasol New Signatures (2018, 2015). Sy kenmerkende portrette en surrealistiese konsepsuele benadering skep onvergeetlike beelde wat nog lank na die tyd in ’n mens se onderbewussyn roer.

Ons ontmoet in ’n park, iewers op ’n grasperk in Pretoria, soos wat ons maar doen hier in die Moot. Hy kom ingerits op sy fiets by die park met sy signature kep en brille. Sy houding is ontspanne, met ’n uitdagende vasberadenheid in sy oë. Die man van die Vrystaat is ’n sonderlinge en ontwykende figuur: ’n pelgrim, op soek na sy volgende verhaal. Daar is vir my iets van ’n ritueel en opoffering in sy werk teenwoordig. Sy projekte met ander kunstenaars is fyn oorweeg, waarvan dié met Allen Laing, Octavia Roodt en Imile Wepener vir my uitstaan. Die drade wat hy saamtrek in sy foto’s, is dig inmekaarverweef. Die manier waarop hy op een karaktereienskap van sy onderwerpe kan toespits en dit ontketen, herinner my so bietjie aan Annie Leibovitz, soos sy portrette van Danielle Clough.

Octavia III (2018) vir Klyntjies; Johann Nortje II (2018)

Allen Laing V (2018)

Bernard swem drie tot vier keer ’n week al vir die laaste 10 jaar – ’n gewoonte waaraan hy hom geleidelik blootgestel het om sy engtevrees te oorwin. Aanvanklik het hy in ’n klein swembad begin lengtes doen: Om bloot sy kop onder die water te druk, was die eerste groot uitdaging. Ná ’n dekade wat hy al bekend is met die liggaamlike inspanning wat dit verg om jou lyf deur die water te sleur, erken hy dat daar steeds dae is dat dit voel of hy versmoor en ’n ton bakstene deur die water trek. Dit het vir hom ’n metafoor geword vir sy doelstelling in fotografie: om steeds elke dag sy arm op te lig met sy kamera, selfs op die dae wanneer dit voel of hy knak onder sy eie gewig. “It’s a way of exerting some sort of control over my life,” vertel hy my terwyl hy die boom se blare bestudeer. Hy verkies ook sy fiets bo sy kar en sal maklik op ’n Sondag sommer 60 km Irene toe ry, terwyl die meeste mense nog slaap.

Allen Laing VIII (2018)

“I am looking at eyes that looked at the Emperor,” val Barthes my weer by. In hierdie geval dink ek spesifiek aan Nataniël, maar Bernard het al verskeie heilige figure voor sy lens laat klik. Sy foto’s is tydloos – dié dat mense soos die konsertpianis, Charl du Plessis, hom sommer China toe vlieg vir ’n paar foto’s. There is a certain dignity about his work wat ek probeer verstaan. Waaraan word die integriteit van ’n foto toegeskryf? Die mense voor sy lens kyk selde direk na sy kamera, asof Bernard kan deurdring tot die mees private binneruimte van iemand se persoonlike gedagtes. Ná ’n deep dive deur Bernard se blog posts oor twee dae, ontdek ek ’n rare selfportret van 2013 waaraan hy waarskynlik nie weer onlangs gedink het nie.

“Waaraan word die integriteit van ’n foto toegeskryf? Die mense voor sy lens kyk selde direk na sy kamera, asof Bernard kan deurdring tot die mees private binneruimte van iemand se persoonlike gedagtes”

— Celeste Theron

’n Man, slightly off centre, op sy tone met ’n hemp gespan oor sy kop. Hy klem sy arms om sy bors, terwyl sy toegetrekte kop, opwaarts, na die lig kantel. Die drama is daar. Sy knieë is ingedraai. Sy bleekpienk vel lyk soos marmer teen die swartgebrande grasvlakte. Die kurwe van sy heup vorm harmonieus deel van die horison van die landskap. Sy pienk tone grawe diep in die sand. Half-naak. Weerloos. Die postuur, of was dit die prominente V, herinner aan Christus teen die kruis – maar sy arms is verstrengel in ’n bondel spiere teen sy hart. Ek vind die gespannenheid van die bleek gestalte teen die swart veld slightly arousing en wonder of mens krag en vertroosting uit so ’n voorstelling kan put? Daar is geen gelaatsuitdrukking om te ontleed nie en dus kan die versmorende man agter die doek enige iemand se lyding aanneem.

Arguing with myself III (2013)

Arguing with myself IV (2013)

Mens noem dit ’n panoramaportret wanneer ’n portret deel word van ’n landskap, sal Bernard my later meedeel. Daar is iets aan die liggaamshouding wat my herinner aan die marmerbeeld van Michelangelo, Die sterwende slaaf (1516), waar hy die oomblik gekies het waar die lewe wegvloei uit die menslike liggaam en hom begewe aan die wette van die natuur: ’n onuitspreeklike skoonheid in hierdie laaste oomblik van uiteindelike ontspanning en bevryding van die lewenstryd. In stede van berusting is daar ’n vasbeslote struweling in Bernard se selfportret, alhoewel die wending van sy liggaam steeds harmonieus is. Ek dink aan die religieuse ondertoon in sy werke Pietà (2015) en Kanselkleed (2018) – wat beide gekies is vir Sasol se New Signatures exhibition. Ek vra hom uit oor sy siening van geloof.

“Ek glo nie in die christen-God nie want hy klink soos ’n towenaar, maar ek wil glo dat daar iets meer is tot al hierdie. In 2019 het my ma vir my kom kuier – ek probeer haar leer ken buite haar identiteit as ’n ma – en moedig haar toe aan om my enige iets te vra. Ek verwag toe sy gaan my vra: “Is jy gay?”, maar toe vra sy my of ek nog in God glo. As daar ’n religious ondertoon in my werk is, it’s just me trying to figure me out. Ek het kerk toe gegaan tot en met 18, die hele Sondagskool-ding gedoen, maar my internskap in 2014 met Zack Arias in Amerika het my religion ge-shatter. Daar het dinge vir my unravel. Ek het nog so twee jaar in die kerk gesit, maar soos ’n hypocrite gevoel. As daar ’n God is, glo ek nie dis die christen een nie.”

“In 2019 het my ma vir my kom kuier – ek probeer haar leer ken buite haar identiteit as ’n ma – en moedig haar toe aan om my enige iets te vra. Ek verwag toe sy gaan my vra: ‘Is jy gay?’, maar toe vra sy my of ek nog in God glo.” 

— Bernard Brand


3rd _Vernac IV (2020); 3rd _Vernac I (2020)

Pietà I (2015)