Klyntji: 'Vier Breytenbach-gedigte vir mistieke ervaring'

Published 03 October 2022 in News

Klyntji

'Vier Breytenbach-gedigte vir mistieke ervaring'

Deur Octavia Roodt

Klyntji - Literatuur

Published 02 September 2022



Gebruiklik vir trauma, mindfulness, mushrooms of die kerk

Die wêreld se mistieke digters is tuis in ’n verskeidenheid kontekste. Jy het hul dalk al op Instagram raakgescroll, in gesprekke oor groeipyne of selfliefde. Dalk deur Rainer Maria Rilke, Rumi of Meister Eckhart. Hul gedigte word gebruik deur terapeute, life coaches en dominees. Dit word aangehaal in die konteks van trauma, mindfulness, mushrooms of die kerk. Mistieke poësie is 'spiritueel' – in die vae en eksplisiete gebruik van die woord.

Die mistieke behels al die omstandighede rondom die ontmoeting van die mens en die goddelike (Jones 2005:6334; Zarrabizadeh 2008:86). Daar is ’n sin van geheimsinnigheid en teerheid. In die klassieke 'Mysticism: A Study in the Nature and Development of Spiritual Consciousness' (Underhill 1910:xiv) word die mensegees se hunkering na harmonie met die hoogste orde beskryf. En hierdie hunkering strek deur menigte kulture en godsdienste. ’n Tipiese voorbeeld, deur Rilke (1999):


Ek het jou lief, allersagste wet

waaraan ons ryp word, waarteen ons veg;

jy reuse-heimwee wat ons nooit bedwing,

jy woud waar ons nooit ’n uitweg vind,

jy lied met elke swyg weer gesing,

jy donker net

waarin die gevoelens vlugtend dring.


So sonder einde groot het jy begin

die dag dat jy dit met ons wou waag –

en ons is so geryp in al jou sonne,

so breed geword en so diep geplant

dat in madonna’s, engele en mense

jy tans die einde vind van al jou wense.


Laat dan maar jou hand rus aan die hemelboog

en duld verstom wat ons so donker met jou doen.


Die groepering van uiteenlopende digters en tradisies as “mistiek” verskaf ’n woordeskat wat doelbewus “transreligieus” is (Camus 1997:[sp]). Die Sufi’s se Islamitiese openbarings word gemaklik vermeng met monnike Thomas Aquinas en Francis van Assisi, of kunstenaars William Blake en Michelangelo se sienings. Daar word beweer dat digters Rabindranath Tagore en WB Yeats oor kultuurgrense saamgewerk het om ’n transnasionale spiritualiteit te bewerkstellig (Dutta 2022:2).

Ek stel graag Breyten Breytenbach voor as ’n kritieke stem vir só ’n beweging. Sonder om die kompleksiteit van sy werk en lewe te verklein, bly sy gedigte tog so 'gebruiklik'. Dit kan ons oopmaak vir ’n roerende en ontroerende mistieke ervaring. Hierdeur kan ons terugkeer na dié ervaring, soos ons wil en moet. En vir my is veral Breytenbach (2000) geskik vir die taak. Ek vind woorde vir die mees intense ervarings.


blind op reis


ek het in die skadu van Witberg oornag

maar om die berg se hoë slape

oor die silwer slaapmus van ewige sneeu

kon ek die kranse lig sien beef


so groot so onaantasbaar so wit

so hoog kom my begrip nooit na bo

en deur my vingers het ek die bidkrale

van sterre probeer tel


om jou naam weer te proe

om jou bitter naam soos ligte druppels

reën op my tong te vang om jou naam

soos ’n afgod in my droom se grond te plant


’n god om my verdere reis te seën

want met die roep van jou naam

met die bloed van jou naam in my mond

kruip ek al hoe yler al hoe witter skuinstes uit



Om van poësie praktyk te maak – om dit te gebruik asof dit ’n middel is – stimuleer spesifieke fisiologiese fenomene. Dorit Netzer (2015:134) het aan die Hofstra University in New York mistieke gedigte toegepas op 24 individue. Die deelnemers se reaksies is noukeurig waargeneem en gedokumenteer deur ’n drie-stap-prosedure. Soos ’n mens sal verwag, toon die navorsing ’n verhoogde sin van broadening/expansion en love/connection.

Netzer (2015:128) beskryf hoe hierdie verbreding en liefde die selfgeoriënteerde vervorm na die transpersoonlike. Mistieke poësie verhoog wat die studie ’n “transpersonal awareness of spiritual freedom” noem, of ’n “participatory, co-creative experience of self-awareness beyond personal concerns”. Om deur die gedig te lees, is om daar te leef. En as ons daar leef, is ons meer.

“Om deur die gedig te lees, is om daar te leef. En as ons daar leef, is ons meer.”

— Octavia Roodt

nagvy


met die eerste daglumier – 

wat ’n mooi woord:

'lumier'

lig ja, maar ook sluimer,

daarom so sluimerlig –


met die eerste kraai van die môrester

as die nag reeds ligter slaap

moet ek weg op my togte,

die dag slaan ’n skielike kruis teen die ruit

en wég op my togte


deur roostuine vyeboorde

verby heuwels gekorf met spelonke

waar bye hul neste van heuning bou,

ver op soek na oases,

ver waar die son die vlees met liefde vrot


gee my ’n woord méé beminde beminde

’n woord waarin ek kan slaap

beskut teen Sarasene huilwolwe in die woestyn,

word ’n ligdonker woord onder my tong,

my tent teen die son

van die stem

want ek laat my nagte hier by jou agter


Ek vind die transpersoonlike in Breytenbach se liefdesgedigte. Spesifieke begeertes word saamgevleg in ’n ononderskeibare geheel. Ek verlang na die lover én die landskap. Ek verlang na verlang. Daar is ’n erkenning van totale weerloosheid teenoor al die vorms wat ’n hunkering mag inneem. Ja, dit ís liefdesgedigte, maar dit spoel oor.


jy strek soos ’n bergketting

oor die landskap van my lewe

jou punte en jou wolke sluit my einders in

soms so digby dat ek jou in verbeelding

met die vingers aan kan roer

soms so ver dat die tyd geen sin

meer het nie


ek weet die vrede lê in jou

die son kom uit jou klowe op

en sink weer daarin weg

wanneer dit aand word kan ek jou ruik

jou soetigheid maak my hart ’n klipspringer

en hoog teen jou spitse spoel die nabye

spoel die hemel se skuim


Mistieke taal, vertaling en interpretasie poog om die goddelike te verbeeld uit die beeldlose (Wolfson 1994:8). Die transreligieuse praat dus in die vorm van kuns en simbool (Camus 1997:[sp]). Flitse van emosionele en sintuiglike indrukke word voltooi in die leser se verbeelding. Skielik lyk die hele wêreld springlewendig. Soos die klipspringerhart dit wil. Ten slotte:


val


my oë kom nou nooit weer los

my hande is hopeloos in jou rugwerwels verstrik

my duime ken hul vingermaats nie

en my voete sal in jou koeltes bly sit

aanbiddend


iewers het my hart in jou verdwaal

sonder spoor of verandering van adres

’n klip het uit die aardkors losgekom

en stort nou hoër die ruimte in

en nader aan gebed


’n voël sprei haar vlerke

word deur die lug op die hande gedra

ek is so lug jy vlieg deur my

sonder jou is ek sonder patroon

want jy is die eiesinnigheid van my liggaam

so ver reeds verby

dat ek skaamteloos om ontbinding bid


Verwysings:

Breytenbach, B. 2000. 'Lady One: 99 Liefdesgedigte'. Amsterdam: Meulenhoff.

Camus, M. 1997. 'The paradigm of transpoetry. Transversales Science/Culture' 44(1):Maart—April. Uit Frans vertaal in Engels deur Joseph E Brenner.

Dutta, A. 2022. 'Mystic modernity: Tangore and Yeats'. New York: Routledge.

Jones, L (red.). 2005. 'Mystical Union in Judaism, Christianity, and Islam'. Encyclopedia of Religion. Detroit: Macmillan.

Netzer, D. 2015. 'Mystical Poetry and Imagination: Inspiring Transpersonal Awareness of Spiritual Freedom. International Journal of Transpersonal Studies' 34(1/2):128—143.

Rilke, RM. 1999. 'De mooiste gedichten. Nederlands ver-Afrikaans deur my.' Uit Duits vertaal in Nederlands deur Piet Thomas.

Underhill, E. 1910. 'Mysticism: A Study in the Nature and Development of Spiritual Consciousness'. Oxford: Oneworld.

Wolfson, E. 1994. 'Through a speculum that shines: Vision and imagination in medieval Jewish mysticism'. Princeton: Princeton University Press.

Zarrabizadeh, S. 2008. 'Defining mysticism: A survey of main definitions. Transcendent Philosophy' 9(1):77—92.


Om die oorsponklike weergawe van die artikel te besigtig besoek asseblief die Klyntji webtuiste hier

Beeld Krediet: Vergun deur Octavia Roodt en Klyntji